Liewe Bleffem Woef
Ja ja ja. Alles gaan nie elke dag soos wat jy gedink het nie. Dis nie dat sommige dae gaan soos wat dit wil nie, maar sien, ek is mos die baas se hond en nou moet ek maar maak wat hy wil.
As ek vinnig genoeg in die bakkie spring, dan ry ek saam werk toe. Ek het een keer my lift gemis en toe probeer om te hike langs die pad. Maar die lorries en goeters toeter net en maak geen aanstaltes om te briek nie. Nou ja, toe loop ek maar weer terug huis toe. Maar dit was glad nie ‘n goeie plan nie. Ek moes liewers daar langs die pad gewag het tot die baas weer terugkom. Lekker in die sonnetjie. Hoekom? Hier by die huis is mos drie lawwe vrouens: Tombi, Daisy en my ma. Die drie span saam teen my en intimideer my bloot met size en ouderdom. Dis nie asof hulle slimmer as ek is nie, maar hulle het die gewigsvoordeel en ook die ouderdom.
Nee, nou moet ek eers help met die huishoudelike takies, bed opmaak, skottelgoed was, wasgoed ophang, stryk, vensters skoonmaak, al die dinge waar ‘n vroulike hond nou uitstekend voor geskik is, nou wil hulle hê ek moet dit doen. Dit was niks nie lekker nie. Ek het één ding geleer: “Moet nooit allenig sonder die baas by die huis bly nie. Die lawwe tantes maak totaal misbruik van die situasie. Toe die baas by die huis kom, het ek amper nie die krag gehad om hom te groet nie. Wffff Wffff het ek gemaak. Amper geklink soos suster Kat.
Suster Kat, sê ek, dit laat my dink aan nou die nag. Die baas laat my gewoonlik buite op die stoepkamertjie slaap daar waar die perdekos is. Toe hoor ek mos dat die suster kat nou ‘n ander gedagte het van slaap in die nag. Sy slaap gewoonlik altyd in die dag, maar in die nag dan vroetel sy rond. En dis met die gevroetelary wat daar amper moord was in die slaapkamer. Die suster kat het eers by die miesies lê en kafoefel en toe die miesies haar uitgooi, toe besluit sy om na die baas se kant toe te gaan. Die miesies trek gewoonlik ook die helfte van die kom-berse van die baas af. Dan lê hy aan die een kant half oop. En dis sulke tyd wat die suster kat besluit sy wil die baas bietjie marsjeer hier in die sy. Of masseer. Dis nou die kant wat half oop lê. Dit was nie ‘n goeie plan van suster kat nie. Die baas het net aan die slaap geraak en is half bewusteloos, toe pomp sy hom hier met haar naelpote vol in die sy. Sy het nie gemerk dat die baas lankal op stoom is nie. Dan hoor jy soos: gggggg pffffffff gggggggg pffffff. Die suster kat het gedink die baas lê en idle of purr daarso, maar eintlik was hy besig om stoom op te bou. En toe sy nou die regte knoppe pomp hier in sy sy, toe hak sy elmboog hier af, volspoed teen haar kennebak. Gelukkig het sy nie op die stadium haar tong uit haar bek gesteek nie. Al wat ek weet, die suster kat het in ‘n boog van die bed afgetrek en die baas het die komberse van die miesies afgetrek en homself ordentlik aan die sykant toegemaak. Dit was nog ‘n rukkie ‘n heen en weer trekkery tot die kombers gelyk verdeel was. Teen die tyd het suster kat weer op die bed gespring, maar net daar onder by die baas se voete gebly. Silly kat.
Hier by die werk lyk dinge baie beter. Ek mag die hele dag daar voor die verwarmer lê en oppas dat niemand hom steel nie. En hier kom nogal baie vriende hier in, hoor. Maar die ander liewe blefsem wat hier werk, is nie lekker nie. Hy is gewoonlik heel vrindelik met my. Dan tel hy my op en vryf my koppie warm met sy koue kloue dat ek sit en bewe op sy arm. Maar hy is te onnosel om dit agter te kom. Ek kan gerus hierdie goeters van hom skryf, want hy druk die koerant en lees hom nooit self nie. Die lawwe onnosel gaan sit toe hier op die spaar- stoel wat amper by die verwarmer staan. Ek lê heel niksvermoedend so voor die kaggel en dink aan warmer plekke en sal die domkop nou nie besluit om die stoel in reverse te sit sonder om sy fliekers te wys of die reverse toetertjie te blaas nie. Nee, hier ry die sopkop bo op my voetjie en parkeer net daarso. Ek sit my tjank in overdrive en skrou vir al wat ek werd is. Maar die ou is nie net dom nie, maar doof ook. Eers ‘n halwe ewigheid later toe kyk hy nou af en sien my daar in smart en lyding. “OOOOO Mapstieksie, lê JY hie agter?” kom hy dan ewe verbaas. Ek’t geweet hy is te dom om dit te kan agterkom. Toe ry hy gelukkig af van dit wat van my voet oorgebly het. “Ag askies, ou Mapstieksie” Nou trek die halwe gaar ou so’n droewige gesig dat ek bang word hy gaan nou huil en ek spring maar gou teen hom op en lek hom orals waar ek kan bykom. Toe smile ons maar weer en vergeet alles. Vergeet alles, hy omdat hy dom is en ek omdat ek ‘n goeie, vrindelike hondjie is.
Toe ek en die baas by die huis kom, toe lê die miesies weer in die bed. “Iets fout, my liewe vroutjie?” vra die baas heel vriendelik. “O nee, ek lê maar net in die bed omdat die water nog koud is en ek wil gaan stort omdat ek van die perd afgeval het” Kan julle dit nou glo. Hier kom die kinders die naweek huis toe en ek keer vir wat ek werd is dat Oorlog nie hulle afgooi nie, maar nee, as ek my rug draai, dan bestyg die miesies ‘n ander onnosele horse en gaan foeter langs die pad daar af. “O my liewe vroutjie, het jy seer gekry?” vra die baas. “Jong, ek het so op die grond gelê sonder dat ek geweet het hoekom. Toe knip ek eers my oë om te kyk of dit nog werk, toe beweeg ek my arms en bene en kyk of dit nog aan my lyf vassit en toe roer ek my lyf om te sien of dit nog orraait is. Nou is ek baie styf, maar verder OK.”
“Siestog, my liewe vroutjie,” sê die baas. “Kan jy nog onthou waar dit was?”
“Ja ja, daar in die veld naby die buurman, net voor die hek”
“Goed, kom ons ry gou soheentoe, dan gaan lê jy weer net so op die grond soos wat jy afgeval het, dan maak ek ‘n foto daarvan om in die koerant..........”
Blykbaar wou die miesies dit nie doen nie. Sy het daar opgevlieg en die baas gejaag met iets wat sy in haar hand gehad het. Miskien die boek wat sy gelê en lees het, maar ek weet nie. Ek het voor die baas uitgehardloop sonder om om te kyk. “Kom baas, kom baas, hier moet ons weg wees. Die miesies het dalk op haar kop ook geval en is glad nie toerekeningsvatbaar nie. Dit sal oorgaan, maar later. Nie nou nie.”
Die baas was gelukkig verstandig. Hy het so driemaal om die tafel gehardloop en die miesies uitgelag. Sy het meer gestrompel as geloop en toe maar gaan sit. Maar die perd se doppie is geklink. Hy gaan versmous word aan die eerste beste krokodilboer.
Die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!